Hierdie artikel handel oor die vraagstuk of kontrakte wat deur minderjariges, met hul ouers se kredietkaarte, aangegaan is bindend is met spesifieke verwysing na sosiale mediaplatforms, soos Facebook.
Beide die gemenereg en wetgewing maak voorsiening vir bepalings rakende minderjariges se reg om verskillende tipes kontrakte aan te gaan. Volgens die Kinderwet, 38 van 2005 is ‘n minderjarige, ‘n persoon tussen die ouderdom van 7 en agtien jaar. Volgens die gemenereg het ‘n minderjarige nie die reg om bindende verpligtinge aan te gaan ingevolge ‘n kontrak nie, en moet die hulp of toestemming van die betrokke minderjarige se voog verkry word, alvorens ʼn kontrak aangegaan kan word. Die toestemming kan gegee word voordat die kontrak gesluit word of daarna, in welke geval dit gesien word as bekragtiging van die kontrak. Daar kom uitsonderings op hierdie reël voor, wat gevind kan word in verskeie stukke wetgewing, sowel as in die gemene reg, soos kontrakte waar die minderjarige net regte en geen verpligtinge verkry (bv. ‘n donasie).
‘n Minderjarige kan aanspreeklikheid vermy, selfs wanneer hulle gebind is in terme van die kontrak (d.w.s. waar die ouer die minderjarige bygestaan het in die sluiting van die kontrak, daartoe toegestem het of die kontrak daarna bekragtig het). Dit kan gedoen word in die geval waar die kontrak nadelig is vir die minderjarige ten die tyde van die kontraksluiting. Die hof kan dan op aansoek, die kontrak tersydestel en las dat alle betrokke party in dieselfde posisie geplaas word, as wat hulle was voor die kontrak gesluit is.
Facebook is tans betrokke by ‘n deurlopende klasaksie regsgeding waar ouers in Amerika eis dat Facebook die wyse waarop aanlyn transaksies deur minderjariges hanteer word verander.
Prokureurs stel dat dit belangrik is dat Facebook kennis dra van ‘n gebruiker se werklike ouderdom, maar kinders word nog steeds dieselfde as volwasse gebruikers behandel wanneer geld (die sluiting van kontrakte) betrokke is.
Een van die grootste probleme is dat wedersydse prestasie, synde die betaling van geld via kredietkaart of debietkaart en die kind krediete verwerf, byna onmiddellik plaasvind. Daarom, as die ouer terugbetaal word, sou die minderjarige onregverdig verryk word deur die gebruik van die krediete.
Die stelsel wat Facebook tans gebruik is problematies aangesien dit minderjariges misbruik wat nie die kontrakte wat hulle aangaan, wanneer hulle krediete koop om aanlyn speletjies te speel, ten volle verstaan nie. Verder skep die huidige stelsel die moontlikheid van situasies waar ouers, wat onmiddellik terugbetaal moet word, toestem tot die aankope en dan nadat die kind die krediete verkry en gebruik het, versoek dat hul rekeninge gekrediteer word as gevolg van ‘n ‘gebrek aan toestemming’.
Dit is duidelik dat hierdie betrokke stelsel van betaling verander moet word en dat daar duidelikheid verkry moet word oor hoe om hierdie betrokke situasie in Suid-Afrika te hanteer, nadat ’n uitspraak rakende die klasaksie in Amerika gelewer is. Op die oomblik, blyk dit dat daar geen oplossing is, vir ouers wie se kinders te veel geld bestee, of hul krediet of debiet kaarte sonder hul toestemming gebruik nie. Indien jou kind van Facebook speletjies hou is dit dalk ‘n goeie idee om ‘n ogie te hou oor jou beursie totdat daar duidelikheid is oor die verhaalregte beskikbaar vir ouers wat hulself in hierdie situasie bevind.
Verwysings Lys
Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.